Somtyds, as superstition
my bietkry
dan bother it my dat
my antie Una,
oo wie ek sal stap
as ek haa eendag dood
innie pad moet kry,
al my kinne-photos het
en 'n Smurf figurine
wat sy eenkee afgevat et toe
ek nog klein was
omdat ek en my broe
violently gedisagree et
oo wie die toy eeste geclaim et
toe my pa it eendag
yt sy wêksak gehal et
Die photos lê inne ou
aluminium chocolate box
Die Smurf staan comfortably
tussen brass en ceramic
mense en hondjies
Al is my antie 'n vyl vrou
wat doekoms stap
admire ek hoe sy agte haa goed kyk
Ek gooi als weg wat ekkie veloo nie
Al wat ek het is wat in my kop
agtebly soesie jare anstap
'n Carrier bag vol memories
meestal ou insults en injuries
wat ek ythal somtyds as ek allien is
en carefully ytpak een vi een
soes ornaments op wit doilies
wat oppe rak staan inne klein voorhys
waa jy veskrie wôd
as jy te veel beweeg
of an ienagge iets raak
© Nathan Trantraal, 2017
***
Die Afrikaapse digter en skrywer, Nathan Trantraal, is in 1983 te Kaapstad gebore. Sy debuut digbundel, Chokers en Survivors (2015), het 'n ATKV Woordveertjie ontvang en die Ingrid Jonker Prys vir Poësie gewen. In 2019 het sy digbundel, Alles het Niet kom Wôd (2017), 'n SALA-toekenning ontvang, en in 2020 het sy roerende werk, Oolog, ook 'n SALA-toekenning ontvang. In 2023 het Trantraal die Philida Literêre Toekenning ontvang vir skrywers met 'n oeuvre van tussen 3 - 5 boeke wat aanhoudend hoë en uitstekende gehalte werk lewer. Hy is met die digter, Ronelda S. Kamfer getroud en is tans 'n dosent aan die universiteit van Rhodes te Grahamstown in die Oos-Kaap se skeppende skryfkunsprogram. Die foto hierby is verkry van EuropeNow. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com
Opmerkings
Plaas 'n opmerking