Die diere kyk op na die hemel. “O, Skepper, gee tog asseblief vir ons sterte!” pleit hulle.
’n Stem sê uit die hemel: “Gaan môreoggend af rivier toe en daar sal julle sterte aan die Groot Boom kry.”
Die diere is gelukkig hiermee en gaan huis toe.
“Ek kan nie wag om ’n stert te kry nie. Kom ons gaan môre ons sterte saam haal,” sê Dassie toe Skilpad hom by sy rots aflaai.
Omdat sy weet sy loop stadig, is Skilpad vroeg die volgende oggend wakker. Dit is nog donker toe sy haar huis verlaat. Die ander diere slaap nog.
Toe Skilpad by Dassie se huis verbystap, roep sy: “Komaan! Kom ons gaan haal onse sterte!”
“Nie vandag nie. Ek is nie lus nie. Ek gaan net hier op die rots sit en die son geniet. Kry asseblief vir my ook ’n stert en laai dit oppad huis toe by my af,” sê Dassie met ’n breë glimlag. “Ek wil ’n lang, wollerige stert hê.”
Skilpad is verbaas Dassie wil nie saamkom nie. “Ek maak so,” sê sy tevrede toe sy besef sy hoef nie vir Dassie op haar rug te dra nie.
Teen dagbreek is 'n groot groep diere op pad rivier toe. Hulle is vinniger as Skilpad en stap soontoe verby haar. Maar Skilpad is vasbeslote om by die Groot Boom uit te kom en vir haar en haar vriend sterte te kry. Sy skuifel voort.
Toe Vlakvark en Skilpad uiteindelik daar aankom, is daar nog net twee sterte oor. Een is ’n kort, stomp stert en die ander ’n dun, regop stert. Vlakvark vat die regop stert, en Skilpad kry toe die stomp stert.
Daar bly niks sterte aan die boom oor nie, en niemand onthou dat Dassie ook ’n stert wou hê nie.
Dassie sit op sy rots en sien hoe die diere huis toe gaan. Hulle stap spoggerig en swaai hul sterte heen en weer. “Ek kan nie wag vir my nuwe stert nie!” dink Dassie.
Dassie sien Skilpad en Vlakvark kom aan. “Het jy my stert saamgebring, Skilpad?” vra Dassie toe hulle nader kom.
“Nee, ek is jammer, ou maat, die sterte het opgeraak! Ek en Vlakvark het die laaste twee gekry. Kyk my stert,” verduidelik Skilpad, en wys na haar stomp stert. “Dis al wat ek kon kry.”
“Ek moes self gegaan het!” sê Dassie spyt. “Ek is vinniger as julle altwee. Ek kon ’n baie mooi stert gehad het as ek nie so lui was nie!”
Skilpad en Vlakvark stap stil-stil weg.
En dis hoekom dassies vandag nie sterte het nie, maar hulle sit nog steeds op rotse en bak in die son!
Fluit, fluit die storie is uit.
***
Hierdie klassieke verhaal uit die boesem van suider Afrika word 'n juweel beskou in die skatkis van plaaslike volksverhale. Tipies 'n egte volksverhaal, bestaan verskillende weergawes daarvan, selfs met streeksverskille, en in vele plaaslike tale, maar in alle weergawes is die lui, stertlose Dassie en sy vriendjie, Skilpad, die hoofkarakters. Dassie se verhaal is ook van toepassing in alle omstandighede en bly 'n goeie, tydlose verhaal vir inheemse kinders. Sou u by hierdie blad wil bydra, kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking