Baie inheemse families en gesinne voldoen nie aan die tipiese westerse, Europese kerngesin-struktuur nie; so byvoorbeeld word baie inheemse kinders grootgemaak deur hul oumas, oupas, en / of ander familielede, en nie deur hul eie ouers nie. Laasgenoemde is 'n kenmerk van inheemse families en gesinne dat die definisie van “familie” of “gesin” veel breër is as slegs moeder, vader, en hul kinders (of die tipiese kerngesin), en ook dat meer mense betrokke is by inheemse gesprekke rondom familie en ouerskap.
Dit is kenmerkend wêreldwyd dat inheemse vaders gewoonlik nie 'n woning saam met hul kinders deel nie, en ook nie betrokke is by die grootmaak van klein kinders nie. Sodra kinders minder afhanklik van hul moeders is, tree inheemse vaders gewoonlik na vore om hulle tradisionele leefwyses en metodes, soos inisieëring-en oorgangsrites van seuns en jong mans te behartig, jag, visvang, akkerbou, natuurbewaring, nomadiese herderskap, tradisionele ambagte, onder andere, en soortgelyke oorlewingsvaardighede aan te leer.
As gevolg van 'n geskiedenis gekenmerk deur kolonisering, diskriminasie, modernisering, opsystooting, en rassisme, voel baie inheemse vaders vandag minder selfversekerd in hul rolle as tradisionele opvoeders, wat op sy beurt weer daartoe lei dat baie inheemse vaders vandag ook sukkel om positiewe bande en verhoudinge met hul kinders te bou en te handhaaf.
Die volgende is sommige van die negatiewe langtermyn gevolge van kolonisering op inheemse vaderskap: Inheemse vaders wat agterdogtig is teenoor die regering en regeringsprosesse, inheemse vaders wat regeringsprosesse heeltemal vermy, 'n agterdogtige en negatiewe houding teenoor regeringskole en nasionale onderwys, hoë vlakke van gesinsgeweld, hoë vlakke van drank-en dwelmmisbruik, lae selfbeeld, die afwesigheid van positiewe vaderskapsmodelle in die breë familie, en die belangrikste faktore natuurlik, armoede en werkloosheid.
Kolonisering se langtermyn impak op inheemse vaders se rolle in hul uitgebreide families en kinders se opvoeding en vormingsjare is / was ontwrigtend, en laasgenoemde is 'n feit wat ruiterlik erken moet word. Die negatiewe impak van kolonisering op inheemse gemeenskappe oor geslagte heen moet ook in ag geneem word.
Vir die eerste keer, sedert die aanvang van kolonialisme, moet inheemse genesingsrites en metodes toegepas word op mense wat dalk liggaamlik gesond, maar geestelik gewond is. Dit is daarom uiters belangrik dat inheemse mans en vaders aktief betrokke raak, en betrek word, by inheemse kulturele byeenkomste en feesvieringe, markte, handwerk, sportaktiwiteite, en gemeenskapsaktiwiteite.
Vir die eerste keer ook moet inheemse gemeenskappe erken dat inheemse vaders nie oor genoegsame kennis beskik om hul families en kinders hedendaags by te staan nie. Dit mag wees dat as gevolg van taalhindernisse en gebrekkige opvoeding inheemse vaders nie hul kinders kan of wil bystaan en begelei met huistake en skoolwerk nie. Dit mag ook wees dat as gevolg van tronkstraf en werksomstandighede inheemse vaders vir lang tydperke weg van hul families en kinders moet wees. Inheemse vaders noem ook dat hulle opsygestoot of geïgnoreer word deur nasionale gesondheid, opvoeding, kinderbeskerming-en versorgingsprogramme.
Dit is derhalwe noodsaaklik dat inheemse vaders leer hoe om positief betrokke te raak by hul families en kinders en sodoende hegte bande met hul gemeenskappe te smee.
Die eerste belangrike, positiewe stap wat inheemse vaders kan volg om hul selfvertroue én verhoudinge met hul kinders te bou is om vaderskap van kinders in hul gemeenskappe te erken. Tydens kolonialisme het 'n kommerwekkende gewoonte ontstaan waarby jong en volwasse inheemse mans vaderskap ontken, of selektief erken slegs vir sekere, maar nie vir ander kinders nie. Dit lei daartoe dat inheemse vroue hul kinders glad nie van hul vaders kan óf wil vertel nie, nie kinders se vaders mag identifiseer nie, dat kinders nooit hul vaders ken nie, en ook word hulle as kinders van “onbekende afkoms” of, nog erger, “onkenbare afkoms” bestempel.
Daar is verskeie redes waarom veral inheemse mans vaderskap ontken, maar twee hoof redes is eerstens, om verantwoordelikheid vir die moeder en kinders te vermy en tweedens, om geregtelike aanspreeklikheid, soos om onderhoud te betaal, te vermy. Vóór die aanvang van kolonialisme kon inheemse mans hul kinders en vroue selfstandig onderhou en voor sorg, maar ná kolonisering tesame met grondonteiening, interne verplasing, en modernisering verkeer die meeste inheemse gemeenskappe in armoede met hoë werkloosheidsgetalle. Sodra inheemse mans dus vaderskap erken, bevestig en erken hulle 'n verbintenis met hul kinders.
Die tweede belangrike, positiewe stap wat inheemse vaders kan volg om hul selfvertroue te bou is om te leer hoe om vir hulself en andere te sorg. Om vir hulself te sorg beteken dat hulle volwasse opvoedingsprogramme, en / of kulturele leerprogramme in hul eie tale en gemeenskappe sal moet bywoon en bemeester “soos kinders en vroue.” Inheemse mans moet ook verantwoordelikheid vir hul eie en hul gemeenskappe se gesondheid vat, wat behels dat hulle deel moet neem aan gesondheidsprogramme.
Inheemse gemeenskappe moet toegee dat hulle moderne vaardighede benodig soos loodgieters, elektrisiëns, bouers, motorwerktuigkundiges, dokters, onderwysers, prokureurs, ensv. Hiervoor sal gemeenskappe geduld moet hê want opvoeding verg tyd en veranderinge vind stadig plaas, veral in inheemse gemeenskappe. Dis moeiliker om van slegte gewoontes ontslae te raak as om goeies aan te leer.
Die derde belangrike, positiewe stap wat inheemse vaders kan volg is om weer betrokke te raak by kosvoorbereiding vir hul kinders en voedselinsameling vir hul families, want mans se betrokkenheid by kos en etenstye hou nou verband met voor-koloniale inheemse gebruike en gewoontes, toe hulle hoofsaaklik verantwoordelik was vir hul gesinne en kinders se kos. In teënstelling met ander mans, het inheemse mans in suidelike Afrika verbasend baie kennis oor kos en goeie voeding.
Inheemse mans moet ook betrek word by inheemse jeugorganisasies en vrywillige maatskaplike werk. Kolonisering is 'n onvermydelike feit, dit hét plaasgevind, en dit hét letsels gelos. Om inheemse verhoudings en vertroue in gemeenskappe te herbou, vra van almal om deel te neem, hul deel te doen, en van elke man om sy velskoene vol te staan.
Nossob Groep wens inheemse vaders oral 'n vreedsame dag toe.
***
Foto 1: Kirib (tradisionele kierie) deur Annual Nama Cultural Festival, 2025
Foto 2: Tsau'pereb (asbrood) deur Annual Nama Cultural Festival, 2025
As u 'n bydrae tot hierdie blad wil maak, kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com
Opmerkings
Plaas 'n opmerking