Lank, lank gelede op ’n warm somersdag in die Kai K'xalaxadi (Groot Kalahari) loop Volstruis in die veld rond. Hy kom af op Skilpad (!nās) (!oqe) en staan en kyk vir Skilpad vir 'n lang ruk.
Toe sê Volstruis:
“Jong, jy loop darem baie stadig. Jy sal my mos nóóit, óóit weghardloop nie.”
Skilpad sê toe: “Hou op praat, Volstruis (|'amib) (tjoe), laat ek ’n kans vat.
Ontmoet my môre by die duin, dan sien ons.”
Skilpad weet goed dat Volstruis hom sal weghardloop. Hy dink toe aan ’n slim plan.
Hy gaan toe na sy familie (|aokhoen) (nǁn╪e) en vriende (|hōsan) (|’anuke) en vertel hulle van die resies die volgende oggend.
“Nou moet ons mekaar help, ons moet saamstaan,” sê hy vir hulle en verduidelik sy plan.
Vroeg die volgende oggend kom al die skilpaaie by die duin aan. Van die
wegspringpunt tot by die wenpaal gaan staan elke skilpad onder ’n
bossie, elke tien treë of so. Volstruis sal nooit die verskil tussen die skilpaddoppatrone sien nie.
Toe die resies begin, haal Volstruis alles uit! Kadoef, kadoef, kadoef hardloop
Volstruis terwyl die stof in ’n wolk agter hom staan.
Volstruis se bene skop hoog op in die lug en hy vra so in die hardloop: “Skillie,
Skillie, waar’s jy?”
’n Skilpad antwoord skuins voor hom: “Hier is ek!”
Volstruis kon sy ore (╪gaera) (n╪ûisi) nie
glo nie. Hoe kan Skilpad dan nou al hier wees?
Volstruis haal sterk uit en hardloop kadoef, kadoef
en lig sy vlerke op. Hy draai soos ’n tolbos in die rondte dat sy vlerke siep-siep fluit. Na ’n rukkie rek hy sy nek (!aos)
(╪qu) om oor die duin te sien en vra weer: “Skillie, Skillie, waar is jy?”
Die
naaste skilpad antwoord skuins voor Volstruis: “Skuins voor jou!”
En so het dit
aangehou tot by die wenpaal.
Toe Volstruis by die wenpaal kom, staan Skilpad reeds daar, hoog en droog.
Só het Skilpad vir Volstruis ’n waardevolle les (ǁkhāǁkhāsens) (ǁkhaǁkha) geleer en vandag nog groet Volstruis vir Skilpad heel beleefd.
Fluit, fluit, my storie is uit.
Bok, bok, ek het lekker gejok.
***
Baie van ons het al verskillende weergawes van hierdie antieke juweel van 'n inheemse verhaal gehoor, maar die weergawe hierbo, soos vertel deur N|uu-onderwyseres, Katriena Esau (gebore te Klipbeen in die Kalahari), is seker een van die getrouste en mooiste ooit. Hierdie volksverhaal bestaan ook in Khoekhoegowab en N|uu. Toe sy in kennis gestel is dat daar ook 'n Europese verhaal oor 'n haas en 'n skilpad bestaan, het Katriena gesê sy is glad nie verbaas nie want “stories waai ver, ver weg op die wind.” Die foto hierby is van 'n volstruis-mannetjie in die Central Kalahari Game Reserve (CKGR), Botswana. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com
Pragtige storie. Beslis beter as die Hasie en Skilpad weergawe daarvan.
AntwoordVee uit