Tradisionele |xam Verhale: “Die Meisie van die Ou Ras, Wat die Sterre gemaak het” deur ||kabbo

Daar word vertel dat hierdie meise een van die Ou Ras, die Vroeë Ras (!xwe'|na'ssho'!ke) en ook die Eerste Meisie was, en dat sy sleg opgetree het. Haar man het haar vermoor. Daar word vertel dat hierdie !xwe'|na'ssho'!ke dom was, en nie dinge reg verstaan het nie. 

My moeder het my vertel dat die Eerste Meisie opgestaan het, haar hande in die as van die vuur gedruk het, en die as in die lug opgegooi het. 
    Toe sê sy vir die as: “Die as wat hier is moet die Melkweg word. Hulle moet wit in die hemel lê sodat die sterre buite die Melkweg staan, terwyl die Melkweg die Melkweg is, alhoewel dit voorheen as was.” 
    Toe kom die as bymekaar en word die Melkweg. Die Melkweg moet saam met die sterre in die rondte beweeg; en terwyl die Melkweg ook so voel, loop die Melkweg rond terwyl die sterre rondvaar, en daarom loop die Melkweg, wat lê, saam met die sterre rond. 
    Wanneer die Melkweg bo die aarde staan, staan die Melkweg vooroor, asof die Melkweg bedoel om te wag, want die Melkweg dink die sterre draai om, en die sterre dink die son is die een wat terugdraai; hy is op pad. Die sterre draai dan om om die dagbreek te gaan haal sodat hulle mooi kan lê en die Melkweg mooi lê. En dan staan die sterre ook mooi rondom. 
    Hulle loop in hul eie voetspore wat hulle altyd volg, en wyl hulle só dink, is hierdie die sterre wat neerdaal. 
    Die Melkweg wat lê kom tot by sy plek, die plek waar die meisie die as in die hemel opgegooi het, en sak mooi daar. Dit lê terwyl dit rondgaan en dit voel dat dit op die hemel lê. Dit gaan in die rondte terwyl dit voel die sterre draai. As hulle draai, gaan hulle weer oor die hemel. Die hemel lê (stil); die sterre is dié wat beweeg. Hulle gaan onder en kom weer uit, en soos hulle beweeg, volg hulle hul voetspore. 
    Hulle word wit wanneer die son uitkom. Sodra die son sak, staan hulle bo rond. En terwyl hulle draai, volg hulle die son. Wanneer dit donker word, word die sterre rooi, alhoewel hulle aanvanklik wit was. As dit donker is, voel hulle blink en helder, en dat hulle mag rondgaan. 
    En dan kan mense snags rondbeweeg want hulle voel die aarde word lig gemaak, omdat die sterre 'n bietjie skyn. Die donkerte is hier op die grond. Die Melkweg gloei net saggies want dit is as, daarom gloei dit saggies. Die meisie is die een wat gesê het dat die Melkweg 'n bietjie lig vir die mense moet maak sodat hulle snags, in die middel van nag, huis toe kan gaan. 
    Die aarde sou nie 'n bietjie lig gewees het nie as die Melkweg nie daar was nie; dit en die sterre. 
    Die meisie het die !hu'ing se wortels se as in die lug opgegooi en die !hu'ing se wortels het sterre geword. Daarom is die sterre rooi want hulle is die !hu'ing wortels se as.* Sy het as eers liggies in die lug opgegooi, want sy wou die as van die !hu'ing se wortels later opgooi. 
    Toe word sy kwaad vir haar moeder omdat haar moeder haar nie genoeg !hu'ing wortels gee om te eet nie, en sy is in die hut. Terwyl sy siek in die hut gelê het kon sy nie self uitgaan om kos te soek nie, om self !hu'ing wortels te soek nie, om te eet want sy was honger. 
    Haar moeders het uitgegaan om kos te soek. Hulle het !hu'ing wortels huis toe gebring om te eet. Die meisie het in die hut wat haar moeder vir haar gemaak het gelê en haar grawe-stok het ook in die hut gestaan want sy kon nie kos uitgrawe nie. 
    Haar moeder het vir haar kos gebring sodat sy kon eet terwyl sy siek lê in die hut en haar moeder het gedink die meisie moet nie van die wildsvleis wat die jong manne gejag het eet nie en dat sy net van haar pa, wat 'n ou man was, se wildsvleis mog eet. Haar moeder het gedink die meisie sou die jong manne se hande koud maak en dan sou hul pyle ook koud word. 
    Die pyl se punt, wat heel bo is, sou koud word en die punt sou voel die jagboog is koud, en die boog sou die jong manne se koue hande voel. Die meisie se speeksel sou in die springbokvleis gaan en dan in die jagboog, en die binneste van die boog sou koud word, só het sy gedink. 
    Sy was daarom bang vir die jong manne se wildsvleis en het net van die wild wat haar pa gejag het, geëeet. Sy het met haar pa se hande gewerk***; sy het met hulle gewerk om haar speeksel van sy hande weg te hou.

***

* Die Eerste Meisie het die as van die geurige !hu'ing wortel (wat deur sommige veld-gemeenskappe geëeet word) in die lug opgegooi en hierdie as het die sterre geword. Die rooi, of ou, !hu'ing het die rooi sterre gemaak, die wit, of jong, !hu'ing het wit sterre gemaak. ||kabbo het vertel die !hu'ing se wortel word ook deur bobbejane en ystervarke geëeet. 

** Dieselfde meisie het ook springkane gemaak deur die skil van die !kuiss'i (eetbare wortels) wat sy geëeet het, in die lug op te gooi. 

*** 'n Meisie wat haar eerste maandstonde kry en in 'n hut geïsoleer is, word in hierdie verhaal beskou as iemand met bonatuurlike mag, met towerkrag. Haar “verandering” (deur middel van menstruasie) beteken dat sy die magiese vermoë besit om sterre te kan skep, die Melkweg ook, dat sy jagters se hande, pyle, en jagboë “koud” kan maak, en dat selfs haar speeksel towerkrag bevat. 

    Die verteller van hierdie skat van 'n verhaal is ||kabbo (Afr. “Droom”) wat homself in 1875 'n “plat Boesman” genoem het. Elke keer as ons opkyk na die hemelruim, mag dit ons herinner aan hierdie antieke |xam verhaal oor 'n honger meisie wat kwaad vir haar moeder geword het, die !hu'ing se as in die lug opgegooi het, en sodoende die Melkweg en die blink sterre geskape het.

    Die kulturele gebruik om meisies in hutte te isoleer sodra hulle hul eerste maandstonde kry, is eie en endemies aan die Nama (Rooinasies / Rooinaman), Namaqua (Rivier Naman), en Saan (of Veldnasies) gemeenskappe in suidelike Afrika. In teënstelling met moderne, westerse gebruike en geloof word 'n meisie se eerste menstruasie deur inheemse gemeenskappe in suidelike Afrika as 'n kragtige en heilige oorgangsrite beskou wat beide magies en vernietigend is, en daarom word meisies geïsoleer. Sou u tot hierdie blad wil bydra, kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com.   

Opmerkings